Back
Hoe om die Kollege te kies wat reg is vir JOU

Wanneer jy moet kies by watter kollege om te registreer, is dit ‘n groot besluit wat voor jou lê. Daar is ‘n magdom inligting daar buite oor honderde verskillende kolleges. Hoe sal JY daardie inligting gebruik om die kollege te kies wat reg is vir JOU?

Moenie vergeet om die “Kontrolelys – Hoe om ‘n Kollege te kies” aan die onderkant van dié bladsy in te vul nie!

Besluite – Groot en Klein


Die lewe is vol besluite. Sonder dat ons dit eens besef, neem ons elke minuut van elke dag besluite. Sommige besluite is klein besluite, byvoorbeeld: “Moet ek ‘n appel of ‘n piesang eet?” Sommige besluit is medium-grootte besluite, byvoorbeeld: “Ek is laat vir werk. Moet ek met ‘n taxi of ‘n bus ry om die vinnigste daar te kom?” Dan is daar groot besluite, byvoorbeeld: “Moet ek trou?” Oor die algemeen het die kleiner besluite nie regtig ernstige gevolge nie. Dit gaan nie veel van ‘n verskil maak of jy ‘n appel of ‘n piesang eet nie.

Besluite – Gevolge


Maar wat van daardie besluite wat wel gevolge het? Hierdie groter besluite is normaalweg nie maklike besluite om te neem nie. Ek kan my nie voorstel dat enige iemand ‘n kar sal koop voordat hulle mooi nagedink het oor watter kar hulle wil hê nie. Pieter gaan nie net by die naaste motorhandelaar instap en die eerste kar koop wat hy sien nie. Waarom nie? Wel, Pieter het waarskynlik ‘n lys behoeftes waaraan die kar wat hy gaan koop moet voldoen.

Pieter het byvoorbeeld vier kinders – hy het dus ‘n kar nodig wat groot genoeg vir sy gesin is. Pieter het ook ‘n stewige kar nodig wat op die slegte paaie in die dorp waar hy woon kan ry. Verder het ‘n baie spesifieke begroting (bedrag geld wat hy kan bestee) en hy dring daarop aan dat hy net ‘n blou kar sal koop omdat blou sy gunsteling kleur is! Voordat Pieter ‘n kar koop, sal hy moet seker maak dat die kar aan al sy behoeftes voldoen. Hy sal die kar eers koop wanneer hy heeltemal seker is dat die kar die regte een vir hom en sy behoeftes is.

Ons het nou oor Pieter gepraat, maar kom ons praat oor JOU. As jy besig is om te besluit by watter kollege om in te skryf, dan is dit een van daardie groot besluite waaroor ons vroeër gesels het. Net soos Pieter nie die eerste kar gaan koop wat hy sien nie, gaan jy natuurlik ook nie by die eerste kollege registreer wat jy geadverteer sien nie. Waarom nie? Wel, jy het ‘n lys dinge wat jy van ‘n kollege verwag en van ‘n kollege nodig het. Kom ons kyk na sommige van daardie behoeftes.

Behoeftes:


1.    Finansiële kostes

Ek is seker jy het een of ander tipe begroting wanneer dit by die betaling van jou studies kom. Elke kollege het verskillende tariewe of fooie. Sommige kolleges verwag van jou om vir jou eie handboeke te betaal en ander weer nie.

By sommige kolleges word jy verplig om ‘n kredietooreenkoms met hulle te onderteken voordat jy by hulle registreer. By College SA, byvoorbeeld, doen ons dit nie. Ons glo nie daaraan om mense met kredietooreenkomste gevange te hou nie. Die probleem met ‘n kredietooreenkoms is dat mens dit gewoonlik nie kan kanselleer nie. So as jy ‘n kredietooreenkoms met ‘n kollege aangaan, sal jy vir die hele kursus moet betaal, self al voltooi jy nie jou studies nie

Ons laat jou ‘n kontrak onderteken (wat ‘n wettige ooreenkoms is) wat sê dat jy verantwoordelik is om jou studiefooie te betaal. Maar ons laat jou ook toe om jou kursus te kanselleer en ons hou jou nie gevange met toekomstige studie-fooie nie. So maak seker jy verstaan hoe kansellasies werk voor jy inskryf. En maak seker jy verstaan of jy nogsteeds vir die hele kursus moet betaal, al het jy gekanselleer.

Wat van deposito’s en registrasiefooie? Sommige kolleges sal van jou verwag om duisende rande te betaal voordat jy nog eers jou studentekaart ontvang het – dis natuurlik indien jy ooit ‘n studentekaart kry!

Hoe werk dit as jy slegs een of twee vakke wil neem? Sommige kolleges sal van jou verwag om die prys van ‘n volle diploma te betaal, selfs al neem jy net twee vakke. Dis soos om jou vir ‘n hele huis te laat betaal wanneer jy eintlik net die voordeur wil koop!

2.    Kursus-/Vakvereistes

As Pieter ‘n kar wil koop, sal hy nie na ‘n inkopiesentrum gaan om dit te koop nie. Net so sal jy sal nie ‘n hotelskool kontak wanneer jy onderwys wil studeer nie. Die kollege wat jy kies, moet jou die vakke en kursusse kan aanbied waarin jy belangstel.

Wat gebeur indien jy ‘n verskeidenheid vakke uit verskillende rigtings wil neem, byvoorbeeld ‘n sektretariële kursus en ‘n rekenaar kursus? Nie alle kolleges laat dit toe nie. Hulle dwing jou om by een tipe program te bly.

3.    Goeie reputasie

Verbeel jou Pieter se vriend het vir hom gesê die BLOU kar is die swakste kar in die hele wêreld omdat almal weet dat dit altyd gaan staan, en dat dit onmoontlik is om ‘n werktuigkundige op te spoor wat daardie soort kar kan regmaak. Daar is geen manier dat Pieter dit eers sal oorweeg om ‘n BLOU kar te koop nie, bloot omdat daardie kar so ‘n swak reputasie het. Dis nie asof Pieter se vriend vir hom jok nie – sy vriend het op ‘n tyd ‘n BLOU kar besit, so hy weet waarvan hy praat.

Verbeel jou nou dat Pieter se vriend eintlik ‘n ander kar vir hom aanbeveel. Hy vertel hom dat hy nou ‘n ROOI kar ry en nog nooit so tevrede met ‘n kar was nie. Hierdie ROOI kar gebruik min petrol, dit is betroubaar en die mense wat vir die ROOI kar se maatskappy werk, is baie behulpsaam en vriendelik. Nadat hy dié gesprek met sy vriend gehad het, dink jy dat Pieter eerder die BLOU kar of eerder die ROOI kar sal koop? Ja, natuurlik sal Pieter eerder die ROOI kar koop omdat dit ‘n uitstekende reputasie het! Mense het goeie dinge daaroor te sê, anders as die BLOU kar wat bekend is vir al sy probleme.

Het jy geweet dat kolleges ook reputasies het? Elke liewe student wat by ‘n kollege studeer, sal ‘n mening oor daardie kollege hê, en daardie mening maak deel uit van die kollege se reputasie. Kom ons gebruik ‘n voorbeeld: die Kollege van Appels en Pere het 1000 studente. Byna elkeen van daardie 1000 studente het hul kursusse gedop omdat die studiemateriaal so swak was. Die meeste van die studente by die Kollege van Appels en Pere is ook baie ontevrede met die tipe diens wat hulle van die kollege gekry het. Kan jy sien dat dié kollege, die Kollege van Appels en Pere, baie gou ‘n swak reputasie opgebou het? Jy sal tog sekerlik by ‘n kollege wil registreer wat ‘n uitstekende reputasie het!

Behalwe om met ‘n kollege se studente te gesels, is daar ook ander maniere om meer oor ‘n kollege se reputasie uit te vind. Daar is twee baie maklike maniere om dit te doen. Eerstens kan jy na Google op die internet gaan. Tik die naam van die kollege plus die woord “klagtes” of “complaints” by die soekfunksie in. Kyk of daar enige resultate is. Jy mag dalk ‘n baie groot verrassing kry!

Tweedens kan jy na die webtuiste www.hellopeter.com gaan. Hierdie webtuiste is ‘n plek waar mense kommentaar lewer oor die swak diens wat hulle van besighede ontvang. Tik die naam van die kollege wat jy vir registrasie oorweeg by die soekfunksie in. As dié kollege ‘n slegte reputasie het, kan jy daarvan verseker wees dat daar ‘n artikel daaroor op die Hellopeter-webblad sal verskyn.

Om dit vir jou maklik te maak, kliek op hierdie skakel:
http://www.hellopeter.com/search_results.php

Dit sal jou direk na die regte plek op die Hellopeter-webblad neem. Lees wat ander studente oor sommige kolleges te sê het.

4.    Akkreditasie

Dit is só ‘n belangrike aspek om te oorweeg wanneer jy op ‘n kollege besluit, maar tog weet nie baie mense wat werklik met akkreditasie bedoel word nie. Wat is die definisie van die woord akkreditasie? Wanneer ons sê dat ‘n kollege geakkrediteer is, bedoel ons dat die kollege amptelike erkenning as ‘n geregistreerde onderwysinstelling het. Om akkreditasie te kry, moet ‘n kollege baie toetse slaag om seker te maak dat dit opvoeding van ‘n hoë gehalte aan sy studente sal bied. Indien ‘n kollege geakkrediteer is, beteken dit dat die kollege aan sekere minimum standaarde voldoen, soos om goedgekeurde leermateriaal, ens. te hê. Wanneer ‘n kollege geakkrediteer is, moet daardie kollege seker maak dat dit altyd aan daardie standaarde voldoen.

Wanneer jy by ‘n geakkrediteerde kollege registreer, beteken dit ook dat die kwalifikasie wat jy van daardie kollege verkry deur ander instellings en besighede erken word. Met ander woorde, as jy jou kwalifikasie van ‘n geakkrediteerde kollege kry, sal iemand wat na jou CV kyk weet dat jy jou opleiding van ‘n kollege ontvang het wat hoë standaarde ten opsigte van die kwaliteit van die opleiding handhaaf. Jy moet altyd uitvind of ‘n kollege geakkrediteer is voordat jy daar registreer. Terloops, College SA is ten volle geakkrediteer!

5.    Gehalte diens

Elke keer wat jy met ‘n maatskappy sake doen, sal jy een of ander tipe diens van hulle ontvang. As jy na ‘n boekwinkel gaan omdat jy ‘n spesifieke boek wil koop, sal jy verwag om diens van daardie boekwinkel te ontvang. Met ander woorde, jy sal verwag dat die boekwinkel boeke het waaruit jy kan kies, en ook dat daar iemand sal wees wat daar werk en jou geld sal neem as jy besluit om ‘n boek te koop. Dit is baie eenvoudige en realistiese verwagtinge. Watter tipe boekwinkel sal dit wees indien dit nie boeke het om te verkoop nie?

Jy kan ook ander tipe verwagtinge hê, soos byvoorbeeld om te verwag dat ‘n werknemer by die boekwinkel jou sal help om die boek te vind waarna jy op soek is. Jy kan moontlik ook verwag dat werknemers van die boekwinkel behulpsaam en vriendelik sal wees. Hierdie tipe verwagtinge is effens anders omdat hulle met die kwaliteit van die diens wat jy ontvang te doen het. Dit is ongelukkig so dat ons dikwels diens van ‘n swak gehalte van baie maatskappye ontvang.


Wat is diens van ‘n swak gehalte? Kom ek gee vir jou ‘n aantal voorbeelde:

Voorbeelde van swak diens:

  • Het jy al ooit by ‘n winkel in gegaan en een van die werknemers gevra of jy ‘n sekere produk daar kan vind, maar in plaas daarvan dat die persoon jou help, kry jy ‘n antwoord soos “Nee” of “Ek weet nie” en dan loop daardie persoon van jou af weg?
  • Het jy al ooit by ‘n winkel in gegaan om iets te koop, maar wanneer jy in die ry gaan staan om te betaal, ignoreer die kassiere jou totaal en al?
  • Het jy al ooit ‘n maatskappy gebel om meer inligting oor ‘n produk te kry, maar dan tel niemand by daardie maatskappy die telefoon op nie? Of het jy al met iemand gepraat wat gesê het hulle sal jou terugbel met meer inligting, maar dan doen hulle dit nooit nie?


Daar is geen rede waarom jy nie ook diens van ‘n goeie gehalte van ‘n kollege kan verwag nie

Ek is seker dat jy sal verkies om by ‘n kollege te registreer wat werklik met graagte hul dienste aan hul studente (en hul voornemende studente) wil lewer. Wanneer jy dit oorweeg om by ‘n kollege te registreer, kyk na die kontakbesonderhede wat jy vir hulle het. Is daar net een telefoonnommer, of is daar meer as een manier om met die mense wat daar werk in kontak te kom? Het hulle ‘n faksnommer? Het hulle ‘n e-posadres? Onthou, jy het die reg om diens van ‘n hoë gehalte van ‘n kollege te verwag.

Moenie by ‘n kollege registreer wat nie tot jou diens wil wees nie!

Ons het gekyk na die verskillende dinge wat jy van ‘n kollege kan verwag, met ander woorde, ons het na jou behoeftes gekyk. Dit is baie belangrik om te onthou dat JY verantwoordelik is om al die inligting te kry wat jy van ‘n kollege nodig het om seker te maak dat die kollege aan jou behoeftes sal kan voldoen. Maak seker dat jy versigtig kies – jy gaan baie tyd en geld in jou opvoeding belê.

Nuttige webtuistes


As jy dit oorweeg om by ‘n kollege te registreer, sal jy die volgende webtuistes baie nuttig vind:

  • The Learning Group: http://www.learninggroup.co.za
  • Thekwini FET College: http://www.thekwinicollege.co.za
  • Skills Academy: http://www.skillsacademy.co.za
  • Ekurhuleni East College: http://www.eec.edu.za
  • Maluti FET College: http://www.malutifet.edu.za
  • SA College of Applied Psychology: http://www.sacap.edu.za
  • Port Elizabeth College: http://www.pecollege.edu.za
  • Motheo FET College: http://www.motheofet.co.za
  • Northern Cape Urban FET College: http://ncufetcollege-edu-za.ncc.co.za/index.asp
  • Centurion Akademie: http://www.ca.ac.za

 

Kontrolelys – Hoe om ‘n Kollege te kies


Om jou te help om ‘n kollege te kies wat die beste vir jou is, het ons ‘n tabel geskep wat jy kan invul. Sodra jy dit voltooi het behoort jy dit veel makliker te vind om ‘n kollege te kies wat reg is vir jou.

Ons moedig jou aan om die “Kontrolelys – Hoe om ‘n Kollege te kies” in te stuur. Ons wil graag sien watter inligting jy oor ander kolleges gevind het. Ons wil ook weet of daar enige iets is wat ons kan doen om College SA selfs nog beter vir jou te maak!

Kliek hier vir die Kontrolelys.

 
free-find.jpgjust-the-job-employment-portaljust-the-job-employment-portalbook-cover-project-management
College-SA-project-management-eguide