|
Carien Kruger Die Rapport (2012-01-07)
Duisende matrikulante wat luidens hul matrieksertifikaat vir ’n graad of diploma kwalifiseer, sal nie vanjaar universiteit toe kan gaan nie. Baie sal nie toelating kry nie weens verkeerde vakkombinasies of te swak punte. Daar is ook nie plek vir almal nie: Die land se 23 universiteite het plek vir sowat 180 000 eerstejaars. Dít terwyl 263 351 van laas jaar se matrieks op papier kan gaan studeer: 120 767 vir ’n graad (24,3%) en 141 584 (28,5%) vir ’n diploma. Volgens dr. Diane Parker, waarnemende direkteur-generaal vir universiteitsonderrig van die departement van hoër onderwys en opleiding, was daar in 2010 altesame 168 408 studente wat die eerste keer gaan studeer het en verlede jaar 175 072. Volgens syfers van Statistieke Suid-Afrika (SSA) was 17,7% van die land se 20- tot 24-jariges in 2010 vir universiteitstudie ingeskryf. Die departement wil dié persentasie oor die volgende 10 tot 20 jaar na tussen 20% en 23% laat groei. Universiteite sal weens beperkte kapasiteit na verwagting elke jaar met slegs sowat 2,8% groei. Sy sê Suid-Afrikaners het ’n wanopvatting dat universiteitsonderrig die belangrikste is. “Dit help nie om hoëvlak-tegnoloë, -beroepslui en -bestuurders te ontwikkel as ons nie deur beroepsonderrig en -opleiding meer middelvlak-ambagslui en -tegnici oplewer nie.” Daar sal vanjaar 82 271 opleidingsgeleenthede aan kolleges vir verdere onderwys en opleiding wees. Koste is ook ’n faktor vir voornemende studente. Dit kan vanjaar byvoorbeeld enigiets tussen R21 000 en R46 000 kos om vir ’n BCom-graad te gaan studeer. Dit lyk asof die Universiteit van Kaapstad (UK) die duurste is. Prof. Thandabantu Nhlapo, waarnemende rektor, het egter gesê die UK se koste is allesinsluitend, terwyl die meeste Suid-Afrikaanse universiteite basiese geld noem. Bykomende koste kan vervoer, veldwerk, lesingnotas, laboratoriumkoste en internettoegang insluit. Die UK hou sy studiegelde soortgelyk aan dié van ander universiteite wat goed vaar op rangordes, maar aanvaar dat dit hoër is as die meeste Suid-Afrikaanse instellings s’n. Tog het die universiteit vanjaar 26 000 aansoeke vir sy 4 000 plekke gekry. Nhlapo sê die UK is duurder omdat hy streef na kleiner klasse, goeie geriewe en toerusting, goeie akademiese hulp aan minderbevoorregte studente, miljoene rande se geldelike hulp aan studente en verskeie steundienste. Die universiteit wil ook die beste akademici lok deur goeie salarisse en meer tyd vir navorsing. ’n BCom-graad kos: Universiteit van Kaapstad: R37 500 – R46 500 Universiteit van die Witwatersrand: R33 110 – R37 059 Universiteit van Stellenbosch: R26 069 Universiteit van Pretoria: R26 000* Noordwes-Universiteit (Puk-kampus): R22 900 – R24 450 Universiteit van Johannesburg: R21 670 – R24 630 Universiteit van die Vrystaat: R21 026
* 2011-fooi, inflasie moet bygereken word.
Bron: Instellings se webblaaie
|